Santie:
Ons het vanoggend 'n heerlike verrassing gehad. Met die eerste uitkyk uit ons woonstel se venster het ons gesien hoe fyn sneeuvlokkies neerval en al die dakke wit kleur. Alles was doodstil en daar het nie 'n windjie gewaai nie. Toe Tjaart dit sien wou hy dadelik weet wanneer gaan dit groot bolle sneeu soos op die tekenprentjies. Ek moes eers verduidelik dat sneeu piepklein vlokkies is wat onophoudelik val. Ons het ons handskoene aangetrek en die sneeuvlokkies probeer vang en bekyk en die mooi vormpies probeer sien. Dit het eers laatmiddag ophou sneeu. Intussen het ek vanoggend 'n groot bondel wasgoed in die munt-wasmasjien gegooi. Daarna het ons in die sneeu gaan rondloop en winkeltjies bekyk. Ons het ook die Zermatt museum gaan besoek in die middag en lank daar spandeer. Daar was onder andere 'n film van die eerste ouens wat die Matterhorn geklim het asook die 4 ouens wat na hul dood geval het. Dit was baie aangrypend en het vir Kosie en Tjaart diep geraak. Blykbaar het daar ongeveer 500 klimmers al gesterf deur die Matterhorn te probeer klim. Ons was weer Coop toe en het lekker piesangs, aarbeie en appels gekoop. Dis sooo lekker om vir 'n hele 3 dae nie McDonalds hoef te eet nie. Tjaart het met net 'n T-hemp en sweetpaktop afgestap winkel toe (15 minute se stap) in die huidige 3 grade en amper bevrore weer by die woonstel aangekom. More ry ons weer 7 uur trein na Innsbruck.
Sent by my ipad
No comments:
Post a Comment