Saturday, May 19, 2012

Innsbruck vervolg

Santie:
Ons dag gister by Innsbruck was 'n heerlike verrassing. Ek het aanvanklik lank gewik en geweeg wat ons moet en nie moet doen nie en of ons 'n Innsbruck kaart moet kry al dan nie. Op die ou end het dit sin gemaak om die kaarte te kry en ons het 'n hele paar dinge gedoen gekry. Ek kon nie my oë glo toe daar gespring word op die skijump nie, was rêrig 'n belewenis. Blykbaar ski daai ouens teen 110km/h binne die eerste paar sekondes teen daai steil helling af. Die sneeuspelery was 'n groot heerlikheid. Kosie was glad nie lus vir die hoogtes nie agv van sy kop wat in Zermatt so seer geword het. Hy was egter voor in die koor met 'n woeste speel-en duikery in die sneeu. Hul wou sommer 'n dag ekstra bly om weer in die sneeu te gaan speel. Aanvanklik het ek ook my bedenkinge gehad oor ons Tiroolse kultuuraand saam met die Gundolf familie wat eers 20:30 begin het. Dit het uitgedraai as 'n groot plesierigheid en ons het lekker gelag en die kunstenaars se veelsydigheid baie geniet. Dit was baie prettig en heerlike vermaak. Tjaart en Kosie was klitswakker en erg spraaksaam toe ons 22:30 by die hotel aankom.

Kosie:
Daar was allerhande soorte danse. Ek het die meeste daarvan gehou toe die twee ouens oor die meisie baklei het. Daar was 'n houtkappers dans, 'n klip kap dans, jodel singery en ouens wat op sulke lang bamboes horings geblaas het. Die ouens het ook klap en spring dans gedoen. Wat ook baie snaaks was was toe die een seun vir die ou omie gesê het hy mag nie bier drink nie want sy boeppens gaan nog groter word. Op die einde het hulle van al die lande liedjies gesing. Hulle het Sarie Marê gesing. Ek ken dit net 'n bietjie.

Sent from my iPhone

No comments:

Post a Comment