Santie:
Ons het vanoggend 'n rustige begin gehad. Ons het die Vatikaan en Siksteinse kapel geboek vir 13:00 en besluit om solank Circo Massimus te gaan kyk. Dit het egter woes begin reën en oral het opportunistiese sambreelverkopers opgeduik. 2 sambrele later en ons het die wêreld platgestap--tot Kosie en Tjaart se verdriet. Teen die tyd wat ons by die Siksteinse kapel gekom het was my mede toerlede kapoet. Hulle het die sig darem waardeer en het oral met hul oudio-gids vir kinders rondgeloop en luister. Ons is daarvandaan buitentoe en het die Vatikaanstad van buite bekyk. Kosie en Tjaart het by daardie tyd genoeg gehad van oudhede en sommer enige -hede dat ons onmiddellik die pad huis toe aangedurf het (ongelukkig met 'n effense ompad--getrou aan my). Die McDonalds het hulle energievlakke bo verwagting herstel en ek het die onwaarskynlike reggekry deur nie saam te eet nie. Ek het vir Tjaart en Kosie teruggeneem hotel toe en toe myself gaan bederf deur uit te gaan. Ek het 'n dis by die restaurant langs ons hotel gaan eet en 'n lekker glas rooiwyn gedrink. Dit was hemels!
Tjaart:
Die Siksteinse kapel was baie mooi. Ek moes nooit saam met Mamma en Kosie gaan stap het nie, want ons het omtrent 5km ver gestap net om die metro te kry. Daar by die Vatikaan is 'n plek waar as jy op die swart kol staan al die pilare agter mekaar staan en soos een lyk. Vandag was n heerlike dag en alles hier in Rome is vir my baie mooi behalwe die reuk wat in die lug hang. Ek is baie moeg en gaan nou slaap. Ciao!
Kosie:
Vandag kon my bene my nie meer dra nadat ons die Vatikaan gestap het nie. Die kuns was baie goed. Ek kan nie glo hoe goed die prente gedoen is nie. Al die manne is met baie spiere geverf en die kleure is baie helder. Om te dink dat hulle dit in daardie jare kon doen. Die Siksteinse kapel was die heel mooiste van almal. Michaelangelo is baie goed. Om te dink dat hy die kapel in 4 jaar klaargemaak het terwyl Leonardo da Vinci omtrent 10 jare gevat het om die Mona Lisa te skilder. Om te dink ek het die ware Mona Lisa en die Siksteinse kapel gesien. Ciao!
Sent by my ipad
No comments:
Post a Comment